sloganspacer
Slogan

 

Oor ons

Baie welkom in Miederpark. Hierdie is 'n vernuwende gemeente wat graag 'n verskil in die gemeenskap wil maak. Mag u die liefde van Jesus tussen ons ervaar. Mag u geestelike groei en vreugdevolle dienslewering in God se gemeente beleef.

Gemeente visie: Maak dissipels vir Christus

Die gemeente is gestig in 1983. In 2004 het gemeenteleiers en vrywilligers opnuut hulle voor die Here verontmoedig en in gebed afgesonder om die Here se visie vir die gemeente vas te stel. Uiteindelik was al die leiers oortuig dat die NG Kerk Miederpark die visie "Maak dissipels vir Christus", van die Here ontvang het. Hierdie visie wil ons graag steeds aktief uitleef!

Hierdie visie is die taak waaraan Jesus Christus sy aardse bediening gewy het. Dit is ook die laaste opdrag wat Hy aan die Kerk gegee het (Mt.28:19-20) en dit is ook die taak waarmee die apostels en die eerste gemeente in die boek Handelinge, hulle besig gehou het! 'n Gebrek aan ware dissipels is vandag ongetwyfeld die grootste krisis in die kerk. Dissipels is wedergebore kinders van God, wat verantwoordelikheid neem om die evangelie van Jesus Christus in sy volle omvang na alle mense te neem: ongereddes, onbereiktes, verdruktes, armes, siekes, verslaafdes, elke vorm van menslike nood. Aan elke christen is die groot opdrag tot dissipelmaking gegee. Jesus roep ons op om 'n dienskneggestalte aan te neem en in die markplein 'n verskil te maak deur my praktiese getuienis. Dis lekker om te sien hoe elkeen met sy gawes 'n verskil kan maak. Kom, word deel van die familie van gelowiges en vind vreugde daarin om die Here deur jou unieke gawes te dien.

Simboliek

  • Die kruis: Die kruis is oorheersend in die simboliek en staan sentraal. In die gemeente gaan dit nie oor ons nie. Alles gaan oor God! Die kruis verwys na die liefde en genade van die Vader wat sy enigste seun Jesus Christus die Here aan ons opgeoffer het. Dit verwys ook na Jesus wat uit liefde vir ons aan die kruis gesterf het. Sy bloed het eenmalig gevloei vir ons volkome verlossing.
  • Die kleur blou, dui op die water van lewe wat uit die kruis-evangelie en gemeente voortvloei (vgl. Eseg.47).
  • Die afwaartse swaard, verwys na die Woord van God wat as tweesnydende swaard ons lewe verryk, maar ook elkeen wat daarmee in aanraking kom vernuwe.
  • Die opwaartse vlam, verwys na die vlam van die Heilige Gees wat in ons harte brand.
  • Die ronde sirkel aan die kruis simboliseer myself. Elke lidmaat wat saam met Christus aan die kruis gesterf het, maar ook saam met Christus opgestaan het en nou vir God alleen lewe.
  • Die kleur groen, dui op nuwe lewe en groei. Saam groei ons geestelik en bring ons lewe oral in die gemeenskap waar ons beweeg.

Ontstaan van die NG Kerk Miederpark

Die NG Kerk Potchefstroom-Miederpark het destydse van die NG Kerk Potchefstroom-Suid (Suiderkruis) afgestig. Die Suid gemeente het reeds op 7 Mei 1979 by hul finansiële kommissie aanbeveel dat twaalf erwe aangekoop moes word vir die nuwe ter stigte gemeente. Hierdie twaalf erwe is destyds aangekoop teen R42 000. Op 21 November 1981 was die sooispitplegtigheid by Tambotiestraat 11 waarna  ʼn pastorie op die nuwe terrein gebou is teen ʼn koste van R108 000 deur Van Eckbouers. ʼn Bedrag van R77 000 van hierdie pastorie is ook tesame met die 12 erwe as bruidskat aan die nuwe gemeente “NG Kerk Miederpark” geskenk.

Miederpark het afgestig met ongeveer 350 lidmate. Daar was nog nie ‘n kerkgebou nie en eredienste is aanvanklik in die skoolsaal van die Hendrik Potgieter Laerskool (vandag bekend as “Potch- Primary”) gehou. Later is eredienste in die Hervormde gemeente Die Wilge, gehou. Die kerkgebou is op 15 Junie 1985 in gebruik geneem. Mnr Koos van Niekerk was die argitek en mnr. Kobus Klopper die bouaannemer.

Die gemeente het op 24 Mei 1986 ʼn meganiese pyporrel in gebruik geneem. Die orrel is deur Fehrle & Roeleveld orrelbouers van Randburg, gebou. Die ontwerp, bou en intonasie is deur Jan Roeleveld behartig terwyl die speelaksie en windlaaie deur Herman Koemans gemaak en die blaasbalke en elektriese aanleg deur Monte Lyners vervaardig is.

Die eerste voltydse leraars paar, ds. Charles en Zella Cassell, is op 13 Augustus 1982 as leraar bevestig en het later op 15 Junie 2003 afgetree. Die tweede leraars paar, ds. Willem en Martie Louw, is op 3 Junie 1988 bevestig en steeds werksaam in die gemeente.

Die gemeente was vroeg reeds missionêr gerig en ds. Dawie en Naomie de Wet word in 1989 as eerste voltydse sendelinge uitgestuur. Sedertdien is daar reeds talle sendelinge deur die gemeente uitgestuur.

In  2003 word ʼn Tweede pastorie gebou. Die derde leraars paar, ds. Poena en Felicity van der Merwe  word op 5 Oktober 2003 bevestig en dien slegs tot Oktober 2004 (Hy het kort na sy aankoms ernstig siek geword en kon nie verder werk nie. Hy word later as medies-ongeskik vir werk verklaar, waarna hy op ongeskiktheids-pensioen gaan). Die vierde leraarspaar di. Okkie en Dorette Cilliers word op 24 Julie 2005 bevestig en is steeds werksaam in die gemeente.

Ander “eerstes” was: Wyle oom Pottie Potgieter wat die eerste koster van die gemeente was. Br. Rudolf Naude was die eerste skriba, terwyl Emmerentia Jooste as eerste orrelis aangestel is. Die eerste dopeling van die gemeente was Corné Esterhuizen.

Aan die einde van 2004 het die gemeenteleiers na vele gebede en bespreking besluit om die gemeente visie: “Maak dissipels vir Christus”te aanvaar.  Die gevestigde tradisionele bedieningstyl is vervang met ʼn meer kontemporêre bedieningstyl. Lidmate het weekliks in Selgroepies byeengekom en op spontane wyse na ander uitgereik. Talle aanpassings het gevolg. Die kerkraad is bv. in die daaropvolgende jaar vervang met ʼn gemeentebestuur. Die bestuurstyl asook die bedieningstruktuur van die gemeente is aangepas. Hoewel die aanpassings nie sonder groeipyne was nie, het die gemeente spoedig ʼn vars nuwe identiteit van bruisende liefdevolle en meelewende lidmate beleef. Die evangelie word sedertdien toenemend deur talle lidmate op spontane en liefdevolle wyse uitgedra.

NGK Miederpark

 

Gemeentebestuur

  • Die gemeente word bestuur deur 'n gemeentebestuur wat bestaan uit die bestuurders van 16 bediening, die leraars, 'n voorsitter, die skriba. Ingeval 'n bedieningbestuurder nie die vergadering kan bywoon nie, word die persoon deur sy onderleier van die betrokke bediening verteenwoordig.
  • Die gemeente is gawe gedrewe. Dit beteken lidmate word betrokke by 'n bediening ooreenkomstig hul gawe. Die bestuurder van daardie bediening verteenwoordig weer die lidmate se belange op die gemeentebestuur.